Monday, October 23, 2006

Weerlig

'n Donderstorm op die hoeveld ruik ongelooflik lekker. Die belofte van reen, die amper angs wat die wind saambring. Jy ruik die donderstorm voor hy losbars, elektries en kragtig.
Die storm woed dan ook al die spinnerakke uit jou siel en ruk die verlore hoekies los voor dit skoongewas en blink is na die stormwater daaroor gespoel het. Soms vee 'n haelbui verby en slaan gate in onstabiele gedagtes en idees. Die stewig geankerde waardes van jou wese bly egter en weerstaan die aanslag van die storm.
So storm is soms nodig. Die maklikste is om by die venster te staan en te kyk hoe die donderweer, ren en hael verby kom. Die krag van die natuur is genoeg om jou te laat besef hoe klein jy eintlik is, en dat jy nie werklik beheer het oor wat aangaan nie. Maar na die storm, as alles vars en skoon ruik, dan is daar tog weer kans om die orige kneusplekke te verbind en op te ruim. En te besef wat rerig belangrik is. Dan drink jy die geure van die na-storm in en kyk na die reenboog, die belofte, dat jy nie alleen is nie.

0 Comments:

Post a Comment

<< Home