Friday, February 16, 2007

Life changing events



‘n Vakansie in ‘n vreemde land. Dit klink ongelooflik eksoties, en soms moes ek myself knyp om die werklikheid daarvan te besef. Eers op die vliegtuig het die hele avontuur begin werklik voel. (ek is gelukkig, ek travel net vir vakansie, so die hele idée van lughawens en vlieg assosieer ek met opwinding). Die eerste dag het ek ‘n total van 35 ure op vliegtuie, lughawens en treine deurgebring. Maar eers in Italie het die lug anders geruik. Soos huis, maar met meer geskiedenis. Firenzi! Ek het verlief geraak op die ou dorp. Met die Duomo in die middel wat uittroon bo alles en almal. Die groen en wit marmer skep die illusie van lig en skaduwee. Die strate rondom is vuil, maar almal lei soontoe, asof sy jou nader lok met die stem van ‘n meermin. Het telkemale per ongeluk opgekyk en weer haar kollosale, maar grasieuse liggaam bewonder. Die detail in elke klein stukkie, elke ‘nook-an-cranny’, sterretjies, mane, saints. Selfs ‘n inskripsie om die Suid Afrikaanse regering te bedank vir die geld wat geskenk is om die dorp weer op die been te bring na die vloed van 1966. Die herinnering aan die dorp sal ek vir ewig koppel aan die reuk van koffie, reen, papier en leer. Was ‘n totaal van drie dae in die dorp, het die vierde dag die trein geneem na Roma.

Roma, oorweldigend, oordonderend en absoluut fasinerend. ‘n Stad wat die hede, verlede en toekoms omarm en saam nooi op ‘n rit sonder ophou. My eerste dag was net heeltemal oorweldigend. Hoe is dit moontlik dat na 2000 odd jaar, die goed steeds kan staan, en wat het ek sover vermag waarop ek my naam kan sit. Waaraan het ek geraak? Rome is elke sent werd wat jy spandeer om daar te kom, dit vul jou siel, voed jou wese. Inspireer en hipnotiseer jou. Die oneindige mosaieke wat regoor die stad in elke museum is, en selfs in die kleinste kafee is het my weereens laat verlang na ‘n lewe waar alles makliker is, en mens elke dag iets kan skep. Die mosaieke van Ostia en Pompeii het my amper aan trane gehad, die detail, die eenvoudige, tog asemrowende werk. In die Vatikaan Museum was daar ‘n mosaiek waarvan die teels so klein is dat mens nie die detail kan afneem nie. Dis van twee eende… Die kleure in die geboue, die goud, die wynrooi en koningsblou. Die olyfgroen en terracotta oranje. Die oker en burnt sienna. Dis intens, selfs al skyn die son nie die dag nie. Die kleure van die geboue in Tratevere, die gevoel dat die spoke van gister jou hand wil neem en wys waar hulle gelag, gedans en gespeel het.

0 Comments:

Post a Comment

<< Home