Thursday, April 19, 2007

Gebroke harte en lewens

Ek loop gistermiddag ‘n ou skoolvriendin raakin die plaaslike woolies. En ons gesels oor die lewe, en mens kan die seerkry in haar oe sien. ‘n Seerkry wat net verlore liefde los. ‘n Letsel van alles gee en uitgestoot sit na die hele affair. Sy het nie daai bittere klank in haar stem, want so baie vrouens het nie, maar die trane sit vlak. Sy vertel van oor begin, wegtrek, ‘n nuwe lewe bou. Nader aan haar ouers en suster. En dat sy soms dwaal en groot stukke van die jaar nie kan onthou nie.
En buite die winkel sien ek haar klim in ‘n baie nuwe, luukse duitse motor. ‘n Sport model, en ek dink by myself, dat dit nie rerig so sleg met haar kan gaan nie. Sy krepeer nie van armoede nie, en sy lyk ok. En vir ‘n halwe oomblik beny ek haar eintlik haar sukses wat sy tot dusver behaal het.
Ek klim maar in my ou karretjie (die het die ander dag 100 000 km gemaak, en ons het dit gevier) en ry huis toe. Maak aandete vir die liefde van my lewe, en ons sit en gesels met mekaar oor die dag, planne vir die naweek en die komende skaak liga. En skielik tref dit my. Ek ry die ou kar, maar ek is gelukkig, daar is nie diep, rou letsels op my siel nie. Daar is nie die pyn van verlore liefde wat vlak le in my gemoed nie. Ek ken iemand vir meer as agt jaar, en ons toekoms lyk helder en mooi.
En ek kry haar jammer. My hart pyn sommer omdat sy die aand alleen na haar huisie moet terugkeer, en haar nuwe lewe moet bou, noun a ‘n paar jaar van getroude lewe. Nuut begin, alleen begin. Die verewig, tot die dood ons skei, is nou, tot die skeisaak afgehandel is. En ons elkeen kan aangaan en probeer maak of die laaste vier jaar nie gebeur het nie.
My hart gaan vandag uit na almal wat deur pyn moet worstel. En ek hoop julle tonnel word wyer en ligter. En ek bid dat julle in een stuk aan die ander kant sal uitkom.

1 Comments:

Blogger Maria Botha (Ripples For Good) said...

jy skryf baie mooi..sal definitief weer kom inloer.

2:30 am  

Post a Comment

<< Home